?Netwerke van groot bewaringskorridors van natuurlike habitat, wat meestal uit natuurlike grasveld, woude, vleilande en klein riviere bestaan, speel ? belangrike rol in die bewaring van Suid-Afrika se ryk verskeidenheid plante, swamme en diere, asook ontelbare mikro-organismes. Só skryf prof Michael Samways van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie in ? meningsartikel vir die Mail & Guardian ter viering van Wêreldnatuurbewaringsdag op 28 Julie.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Michael J. Samways*
Natuurbewaring gaan nie net oor die bewaring van die groot hoeveelheid spesies nie, maar ook oor die menigte interaksies tussen al die spelers op dieselfde ekologiese verhoog. Boonop het al hierdie spesies ? komplekse verskeidenheid van mikrohabitatte nodig om kos te vind, te versprei, te paar, voort te plant en tot volwassenes te ontwikkel.
Maar met soveel spesies en selfs meer interaksies moet ons maniere vind om die algehele weefstof van die lewe te bewaar. Dit is ook iets om oor na te dink wanneer ons Wêreldnatuurbewaringsdag op 28 Julie vier.
Die vind van oplossings is noodsaaklik vir Suid-Afrika met sy ryk verskeidenheid plante, swamme en diere, asook ontelbare mikro-organismes. Groepe spesies en hulle interaksies wissel van plek tot plek oor landskappe heen. Die organismes in hierdie mosa?ek moet oor die landskap heen eb en vloei op soek na optimale toestande vir voeding, groei, voortplanting en oorlewing. Hierdie vloei dra daartoe by dat gesonde vlakke van genetiese diversiteit in die populasies van hierdie organismes gehandhaaf word.
Nog ? uitdaging is dat baie van die spesies in spesifieke habitatte leef. Skade aan die habitat kan die verlies van ? spesie meebring, wat selfs plaaslike uitsterwing kan veroorsaak. Op dié manier begin die lewensdraad ontrafel.
? Beginpunt is om die natuur te bewaar en die beginsel van “die natuur weet die beste" te handhaaf. Natuurreservate speel ? uiters belangrike rol in die bewaring van biodiversiteit, maar die grootste uitdaging is te vinde by die raakvlak tussen menslike aktiwiteit en natuurbewaring. Dit beteken dat ons werkbare oplossings moet vind wat mense én die natuur bevoordeel waar hulle naas mekaar bestaan.
? Weg vorentoe is die handhawing van die “voorsorgbeginsel", wat behels dat soveel grond en water moontlik bewaar word om te verhinder dat alle spesies en hulle interaksies in gevaar gestel word.
Houtproduksie is belangrik vir Suid-Afrika met sy min natuurlike houtbronne en plantasies wat reuse-grondgebiede beslaan. Maar hoe integreer ons natuurbewaring met houtproduksie? Ná uitgebreide samesprekings met die groot houtmaatskappy Mondi het ons by die Universiteit Stellenbosch ? werkbare oplossing ontwikkel wat vir beide houtprodusente en bewaringsbewustes aanvaarbaar is, omdat saam met die natuur gewerk word en nie daarteen nie.
Dié oplossing behels om grond tussen blokke plantasies te reserveer – grond wat landwyd sowat ? halfmiljoen hektaar beslaan. Hierdie grondgebiede neem die vorm aan van netwerke van groot bewaringskorridors van natuurlike habitat. Dit bestaan meestal uit natuurlike grasveld, maar ook uit woude, vleilande en klein riviere. Hierdie netwerke maak gemiddeld ongeveer een derde van die plantasies uit en is goed in KwaZulu-Natal gevestig.
Dit was egter van kardinale belang om aan te toon dat die korridors inderdaad natuurlik funksioneer. Ons het dit gedoen deur biodiversiteitsvlakke in die bewaringskorridors met dié in nabygele? natuurreservate te vergelyk.
Omdat daar nie monsters van alle biodiversiteit geneem kan word nie, gebruik ons meestal plante en insekte as brandwagte. Die rede hiervoor is dat hulle talryk en spesieryk is, ? wye reeks lewenstyle ten toon stel en sensitief vir habitatverandering is.
? Bonus is dat hulle ook in en op die grond leef, asook met plantgemeenskappe geassosieer word. Baie word ook met varswater geassosieer – hetsy strome, riviere of vleilande. Aangesien hulle wyd met talle ander spesies in wisselwerking tree, bied hulle ? omvattende ekologiese prentjie.
Dit is belangrik dat die korridors so wyd as moontlik moet wees om enige nadelige gevolge van die aangrensende plantasiebome, wat meestal uit uitheemse denne- en bloekombome bestaan, te vermy. Hierdie groot wydte, ideaal gesproke meer as 120 m, beteken dat al die interaksies en prosesse kan plaasvind soos dit natuurlik sou. Maar dit beteken nie dat nou korridors geen waarde bied nie, want talle natuurlike interaksies kan steeds daarin plaasvind en hulle bevorder die beweging van insekte en ander organismes oor die landskap heen.
Dit is noodsaaklik dat die korridors goed in ? netwerk met mekaar verbind is, insluitend van een plantasie na die volgende. Dit lei tot kongruensie tussen natuurlike habitatte oor honderde kilometers heen, wat oor alle soorte terreine, elevasies en tipes ekostelsels kriskras. Dit is van deurslaggewende belang dat dit hierdie reusevariasie van bewaarde landskappe is wat organismes in staat stel om hulle mees geskikte habitat te vind. Hierdie konnektiwiteit bied voorts aan die landskappe die ekologiese veerkragtigheid om ? veranderende klimaat en uiterste weersomstandighede soos swaar re?nval of droogte te weerstaan.
Die natuurlike waterstelsels en grond in die korridors word deurentyd so ongeskonde as moontlik in stand gehou. Dit word bewerkstellig deur nie bome vir werkhout naby strome, riviere of vleilande te plant nie. Klam grond dien weer as ? spons vir water en ondersteun welige plantegroei wat in die afwesigheid van plantasiebome help om die beweging van natuurlike grondwater te handhaaf.
Brande, ? natuurlike verskynsel in die gebied, moet ook in ag geneem word omdat dit verhinder dat die grasveld in ? bosagtige landskap ontwikkel en ? belangrike rol in die gesondheid van baie plante speel.
Die grense tussen natuurlike woude en grasveld word ook in die korridors beskerm, omdat hierdie oorgangsgebiede talle skaars en belangrike spesies onderhou. Wild word ook in hierdie mosa?ek van plantegroei toegelaat omdat hulle help om die gesondheid van die grasveld te handhaaf.
Sekere uitdagings het in hierdie bewaringskorridornetwerke opgeduik, soos indringerplante wat ? probleem bly. Houtagtige uitheemse plante word redelik maklik beheer, maar Amerikaanse braambosse bly ? groot kopseer. Onlangse navorsing met behulp van satelliettegnologie en masjienleer het egter dié onkruid se indringingspaaie ge?dentifiseer, wat vinnige en effektiewe braambosverwydering moontlik maak.
Plaaslike gemeenskappe is betrokke by die vestiging van korridors en gebruik die grond as weiveld vir matige vlakke van bees- en bokweiding. Die stropery van groot soogdiere word streng beheer en het gesonde populasies van olifante, renosters, kameelperde, sebras, wildebeeste en talle ander groot diere tot gevolg. Dit is belangrik vir insekte omdat hierdie groot diere kos vir ? ryk verskeidenheid van miskruiers bied.
Brandpaaie verhinder op hulle beurt dat veldbrande die plantasieblokke binnedring. Bome vir werkhout word ook sensitief geoes om grondversteuring te verminder.
Mondi trek voordeel uit die implementering van die korridors deurdat die voortgesette gesondheid van grond- en waterstelsels tesame met hulle biodiversiteit gehandhaaf word. Dit staan as volhoubare bosbou bekend. Mondi, wat internasionaal as ? voorstander van volhoubare bosbou beskou word, pas hierdie goeie praktyk toe en bekom daardeur bosbestuursertifisering en die geleentheid om produkte na Europa en elders uit te voer.
*Michael J. Samways is ? uitgelese emeritus-professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch.?