Kayla Lourens, 'n finalejaar MBChB-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), is erken as een van Suid-Afrika se top finalejaar-mediese studente toe sy die Jong Dokters Merietetoekenning verwerf het by die Nasionale Mediese Toekennings, wat tydens die onlangse 2025 Smart Health Summit gala-aand in Pretoria gehou is.
Die toekenning, wat deur die Alliansie van Suid-Afrikaanse Onafhanklike Praktisynsverenigings (ASAIPA) toegeken word, erken finalejaar-mediese studente regoor die land wat uitblink in akademie, leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid. Lourens deel die 2025-top-eerbewys met Estiaan Mellet van die Universiteit van Pretoria.
Lourens, 'n uitstaande student aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het al vantevore toekennings ontvang. Verlede jaar het sy die Universiteit se gesogte Rektorstoekenning vir Leierskap ontvang en is ook erekleure vir leierskap, kultuur en diens aan die US toegeken, asook 'n merietetoekenning vir haar bydraes tot die Tygerberg Studente-unie.
Met 'n sterk belangstelling in kardiovaskulêre geneeskunde, het Lourens haar akademiese prestasies aangevul met ryk internasionale ervarings, insluitend 'n Duitse Somerskool aan die Universiteit van Tübingen en 'n kliniese keusevak in akute hartsorg by die Northwestern Memorial Hospital in Chicago. Sy het ook Vriende van Dokters Sonder Grense by die MSF Suider-Afrika Algemene Vergadering in Harare verteenwoordig.
Leierskap en gemeenskapsdiens het sentraal gebly tot haar studentereis. Lourens was voorsitter van die Tygerberg Verenigingsraad, die US Mediese Orkes en Vriende van Dokters Sonder Grense, terwyl sy ook in bestuursliggame soos die Tygerberg Studente Verteenwoordigende Raad en die Akademiese Sake Raad gedien het.
Terwyl sy oor haar ambisies nadink, sê sy dat sy verbind is tot pasi?ntgesentreerde sorg en hoop om by te dra tot 'n meer innoverende, billike en deernisvolle gesondheidsorgstelsel.
“Ek glo dat die toekoms van Suid-Afrikaanse gesondheidsorg afhang van jong dokters wat bereid is om op te staan – nie net om die stelsel te kritiseer nie, maar om deel te wees van die transformasie daarvan."
Lourens het bygevoeg dat die ASAIPA Jong Dokters Merietetoekenning by haar aanklank vind omdat dit meer as akademiese prestasie erken. “Dit vier die soort dokter waarna ek streef – 'n dokter wat met empatie lei, gemeenskappe ophef en elke geleentheid gebruik om te groei en terug te gee."