?Die Universiteit Stellenbosch (US) se Prof. Thulani Makhalanyane is as ere-navorsingsgenoot aangestel by die Suid-Afrikaanse Insitituut vir Akwatiese Biodiversiteit van die Nasionale Navorsingstigting (SAIAB), 'n instituut wat internasionaal erkenning geniet vir hul werk op die selakant en ander skaars waterdiere.
Prof. Makhalanyane is aan die stuur van die US se Afrika-mikrobioomprojek wat wortels in die Departement Mikrobiologie en die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke het.
Hy sal veral kragte saamsnoer met die SAIAB se hoofwetenskaplike, Prof Albert Chakona, in 'n strategiese poging om mikrobioomnavorsing by akwatiese navorsing te ingegreer. Die aanstelling sal ook voorsiening maak vir 'n reeks gesamentlike navorsinginisiatiewe soos onder meer student-uitruilprogramme en raamwerke vir die deel van data.
Makhalanyane sê daar is reeds verskeie potensi?le projekte op die tafel wat daarop fokus om die uitwerking van besoedeling op varswaterstelsels in die area te verstaan: “Ons is opgewonde oor die moontlikheid van 'n reeks samewerkingsprojekte. Ons span is byvoorbeeld nuuskierig oor die uitwerking wat afvalwatersuiweringsaanlegte op die ekologie van varswater het, en sal mikrobiome inspan om oor veranderings wag te hou. Hierdie tipe projekte is belangrik en sal help om gemeenskapsontwikkeling aan te dryf."
Volgens prof. Makhalanyane onderlê die Afrika-mikrobioom-groep se navorsing die “One Health" konsep wat erkenning gee aan die onderlinge verbondenheid tussen mense, diere, plante en hul omgewing. “Mikrobiale gemeenskappe speel lewensbelangrike rolle in beide ekosisteme, sowel as menslike gesondheid. Alhoewel die onderlinge verbondenheid tussen die omgewing en gesondheid toenemend erken word, het betreklik min studies tot nog toe op die sentrale rol van mikrobiome gefokus. Gevolglik skiet ons meganistiese insigte tekort oor hóé mikrobiese gemeenskappe oor ekosisteme heen funksioneer.
“Onlangse bewyse toon dat mikrobiome al die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte van die Verenigde Nasies onderlê. Dit is dus noodsaaklik om ons begrip van mikrobiese prosesse in beide natuurlike ekosisteme, asook gasheer-geassosieerde omgewings uit te brei," sluit hy af.