中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe… Naweed Mullajie
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 19/05/2025

Met ons jaarlikse reeks #dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.

Naweed Mullajie bied omvattende studentesteun op die Tygerberg-kampus en vervul so 'n kernrol in ons mediese studente se lewens buite die klas. Of hy nou leiding voorsien aan kampusleiers, gemeenskapsgeleenthede beplan of sommer net luister, hy skep 'n positiewe kampuservaring wat welstand, persoonlike verhoudings en ontwikkeling bevorder.

Wat behels jou werk by die US? 

As TygerMaties-klusteronderwysko?rdineerder en studente-ontwikkelingspraktisyn op die Tygerberg-kampus, sorg ek dat ons 'n holistiese benadering tot studentesteun volg. Ek konsentreer op die ko-kurrikulêre onderwyservaring buite die klas, wat ook die formele onderwysproses be?nvloed. Die sogenaamde 'klusters' is groepe studentegemeenskappe (sowel koshuis- as pendelstudente) wat 'n groter gemeenskap vorm waar hulle met mekaar kan skakel en aan inisiatiewe kan saamwerk. 

Ek ondersteun studente se ontwikkeling en skep vir hulle ruimtes om te leer, te ontwikkel en nuwe verhoudings te bou. Ek dien ook as koshuishoof van Hippokrates.

Aangesien alle studente in die TygerMaties-kluster in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) studeer, is skakeling met die Fakulteit en ander administratiewe afdelings 'n kerndeel van my werk.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk? 

Elke dag is anders. Daar is dalk vaste afsprake soos vergaderings of aktiwiteite in jou dagboek, maar my dae is nie gewoonlik so eenvoudig nie.

Ek werk met personeel én studente, so bedags het ek gewoonlik vergaderings met personeel. Dít behels ontmoetings met die kantore vir plasing, keuring en bemarking, sowel as gereelde vergaderings met my kollegas in die Afdeling Studentesake en die Sentrum vir Studentelewe en -leer. Daar is ook gereelde skakeling met die FGGW-bestuur, soos vergaderings van die Dekaan se Bestuurspan, die Tygerberg-studenteraad, of die Advieskomitee vir Studentesake by Tygerberg.

Die interessantste deel van my dag is wanneer ek met studenteleiers ontmoet om aktiwiteite te beplan, en by studente gaan inloer om te sien wie dalk hulp kort. Dít gebeur gewoonlik in hulle af tye of aan die einde van hulle akademiese dag. Ons probeer 'n tweede tuiste vir ons studente skep, so ondersteuning is dalk in die vorm van hulp deur 'n moeilike tyd, of die viering van klein oorwinnings soos wanneer hulle 'n toets slaag waarvoor hulle doodbang was.

En dan is daar die studente-aktiwiteite – van debatte oor leierskapsonderwerpe, tot gespreksessies oor aktuele sake of ander kwessies. Ons hou speletjiesaande, karaoke-aande, boekklubs en staptogte. Daar is ook danse en fiksheidsaktiwiteite, hetsy 'n sokkie, 'n hiphop-oefenklas of 'n danskompetisie, enigiets waaraan die studente kan dink (of wat op TikTok trend!).

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei?? 

Ek het 'n agtergrond in finansies, wat my in staat gestel het om in verskillende afdelings te werk waar ek met studente kon skakel. My eerste pos by die Universiteit was in die destydse Matie Gemeenskapsdiens, wat studente se uitreikwerk in die gemeenskappe om ons kampusse ondersteun het.

Daarna het ek na 'n akademiese departement op die Tygerberg-kampus verskuif, waar ek waardevolle ervaring opgedoen het in die funksionering van die FGGW en die kampus.

Ek is later as assistentboekhouer in Studentefinansies aangestel. In daardie pos het ek met alle studentestrukture en hulle finansies gewerk, van koshuise en pendelstudentgemeenskappe tot die Studenteraad en fakulteitskomitees. Die rol was van onskatbare waarde, want dit het my geleer hoe om 'n mentor en raadgewer vir studenteleiers te wees. Ek het in daardie tyd ook met Studentesake saamgewerk om 'n ko-kurrikulêre ontwikkelingsprogram vir finansi?le bestuurders te ontwikkel, wat op studente se akademiese transkripte erken word.

Terwyl ek by Studentefinansies gewerk het, het ek 'n sekondêre aanstelling as assistent- inwonende hoof by Academia ontvang, en ek is vier jaar later as koshuishoof van Hippokrates op die Tygerberg-kampus aangestel.

My verskillende poste het my die nodige vaardighede help ontwikkel om ons studente se ontwikkeling te ondersteun.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Studente se terugvoer is vir my verreweg die beste deel van my werk. Ek het 'n hele stapel boodskappe wat ek oor die jare van leiers en studente ontvang het. Ons weet dikwels nie watter impak ons het totdat ons 'n aangrypende brief ontvang nie.

Die skaterlag-oomblikke en die skakeling met studente is ook baie spesiaal. Dis iets besonders om te sien hoe studente hulleself geniet, maar ook hoe hulle glimlag in tye van te?spoed. Ongeag hoe moeilik die toets was of hoe uitdagend hulle dag in die hospitaal was, hulle kan altyd terugkom koshuis toe en net gesels, ontspan en 'n bietjie lag.

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.  

Ek's mal oor lekker en interessante kos. Ek geniet dit om met kos te eksperimenteer en meer oor die kulture daaragter te leer.

FOTO: Stefan Els