中国体育彩票

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
??'n Dag in die lewe van… Jacolette Kloppers
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 14/05/2025

?'n Dag in die lewe van … Jacolette Kloppers

Met ons jaarlikse reeks #dagindielewe, wat in Mei ter viering van Werkersdag verskyn, vestig ons spesiaal die aandag op ons personeellede by die Universiteit Stellenbosch (US). Vanjaar stel ons jou bekend aan professionele administratiewe steundienstepersoneel wat 'n tasbare verskil in studente se lewens maak.

As 'n lid van die Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analitika spits Jacolette Kloppers haar toe op projekte en onderwerpe wat met die Universiteit se visie, strategie en waardes verband hou. Dit behels onder meer om 'n begrip te ontwikkel van studente se geleefde ervarings met betrekking tot beleidsdokumente en mediaberigte en om hulle met antwoorde, konteks en inligting oor die Universiteit te help.

Wat behels jou rol by die US?

Ek is in die Afdeling Institusionele Strategie, Navorsing en Analitika gesetel en 'n groot deel van my werk behels om te probeer bepaal hoe die visie, missie, waardes en strategie van die Universiteit Stellenbosch (US) tot uitlewing kom en hoe verskillende dinge wat by die Universiteit gebeur, by mekaar aansluiting vind.

Vanuit 'n strategiese, institusionele perspektief is die idee om op hoogte te bly van soveel gebeure, besprekings, projekte en inisiatiewe as moontlik wat met onder meer die volgende belangrike sake binne die Universiteit verband hou:

  • Transformasie in 'n bre? sin (byvoorbeeld verwelkoming, tradisies, waardes, kultuur, multikulturisme, identiteit, toegang, plasing, inklusiwiteit, diversiteit, die gevoel van behoort, visuele regstelling, gemeenskapsinteraksie, sosiale impak, sosiale geregtigheid en studentesukses);
  • Taal en meertaligheid (sake wat met die US se taalbeleid en die toepassing van taal verband hou);
  • Die Khampepe-kommissie en CIRCoRe;
  • Geestesgesondheid en welstand;
  • Geslagsgebaseerde geweld; en
  • NSFAS-verwante sake, studenteverblyf en voedselsekerheid.

 Die doel is om vanuit verskeie perspektiewe bewus te wees van die US se transformasie- en meertalige reis en om bewus te wees van verskillende werklikhede binne omgewings – dit sluit studente in. Studente is aan die kern van waarmee ons besig is en hulle maak regtig saak. Deur dit terug te bring na die Universiteit se visie en strategie, probeer ek om te bepaal watter gapings of verbintenisse daar is tussen beleidsdokumente en geleefde ervarings; wat mense van die Universiteit weet en verstaan (of nie); watter inligting hulle benodig; en tot watter inligting hulle toegang het (of nie).

Ek probeer om 'n holistiese, ware beeld kry van debatte en ervarings met betrekking tot kwessies binne die US op soveel vlakke as moontlik. My doel is om materiaal, insig, voorbeelde en gevallestudies te vind om inligting op 'n meer genuanseerde en gekontekstualiseerde manier te kan kommunikeer en versprei. Ons moet bewus wees van die verskillende dinamikas, belange, agendas, rolspelers, belanghebbendes, stemtoon en sensitiwiteite, en ons moet in staat wees om perspektiewe, persepsies, fopnuus en gerugte te toets en te oorweeg. Een manier om dit te doen is om deurgaans op soek te wees na feite en om aktief teenwoordig en betrokke te wees. Feite behoort altyd die beginpunt te wees – al is dit hoe ongemaklik, ontstellend, sensitief of omstrede.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk?

My rol vereis samewerking, interaksie, vergaderings, gesprekke en betrokkenheid by soveel moontlik omgewings op die Stellenbosch-kampus, insluitende 'n verskeidenheid studentestrukture. Elke dag is anders, want dit hang van die aktiwiteite, gebeure en voorvalle af wat plaasvind. Ek spandeer uiteraard ook baie tyd saam met studente – in koshuise, studentegemeenskappe, klusters, studenteleierskap en verenigings.

My rol vereis dat ek luister en waarneem, en om die moeilike vrae te vra om soveel invalshoeke en narratiewe as moontlik te ondersoek.

Ander take sluit die lees van hofstukke en verslae; die samestelling van konteksdokumente, tydlyne en feiteblaaie; hulp met mediaverklarings, notas vir vergaderings, toesprake en vrae-en-antwoorde; om vertroud te wees met beleide en dokumente oor besluite; die re?l van werkswinkels en vergaderings; skryfwerk en redigering; en die bestudering van beriggewing en artikels oor die Universiteit in. Ek is ook by die skep en re?l van inhoud vir MFM 92.6 betrokke.

Wanneer en waar ek ook al kan, probeer ek om studente toe te rus en te bemagtig met feite, konteks en inligting oor die Universiteit. Die dienste en dokumente is beskikbaar – ons moet dit net by ons studente kan uitkry – waar hulle ook al is. Dit is 'n voortdurende proses.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir dié werk voorberei??

Ek is 'n oud-Matie en het 'n BA-graad, asook 'n BPhil- en MPhil-graad in joernalistiek verwerf (die onderwerp van my meestersgraadtesis was Die Matie-studentekoerant). Hoewel ek nie meer 'n praktiserende joernalis is nie, pas ek elke dag daardie vaardighede toe, naamlik om waar te neem, na 'n verskeidenheid mense te luister, om so objektief as moontlik te probeer wees, situasies op te som, te skryf en die ongemaklike vrae te vra.

Gedurende my loopbaan het ek tussen verskillende bedrywe en omgewings beweeg, insluitende die joernalistiek (koerante en tydskrifte), die landbou, kunstefeeste en ho?r onderwys. Afgesien van verskeie joernalistieke poste, het ek joernalistiek en kommunikasie op voor- en nagraadse vlak gedoseer, slypskole oor verskeie media-onderwerpe aan skoolleerders en studente aangebied en geleenthede en konferensies gere?l. Die goue draad is altyd mense, hulle werklikhede, vrese en vreugdes, en hoe ons dit kan verstaan en verbeter, en hulle van die korrekte inligting kan voorsien.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Dit is 'n voorreg om 'n getuie te kan wees van die Universiteit se multikulturele en meertalige reis en om dit self te ervaar. Hoewel dit soms baie moeilik en ingewikkeld is, is dit opwindend om deel van hierdie proses te wees en om 'n ware blik op die Universiteit en sy mense te kry. Ek weet hoe ek as 'n student mentors en beskermengele nodig gehad het, en ek is bly om nou in 'n posisie te wees waar ek kan probeer om 'n volgende geslag toe te rus.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sou verwag?

Behalwe vir die joernalistiek, opleiding en onderwys, is my hart in die landbou. As jy hoop, veerkragtigheid, kragtige oplossings, buigsaamheid en harde werk wil sien, moet jy die berge sien wat boere en landbou-organisasies daagliks in Suid-Afrika versit. In 'n vorige lewe het ek in die landboumedia gewerk en dit sal altyd verweef wees met wie ek is. In 'n stadium het ek daarvan gedroom om 'n onderwyser by 'n landbouskool te wees, maar die lewe het ander draaie met my gemaak op my reis terug na die US. Daar is egter in my kantoor 'n klein uitstalling van plaaswerktuie (soos 'n ploeg, 'n stroper en 'n trekker) en ek woon steeds elke landbougeleentheid by wat ek kan. Dit hou my geanker. Boonop bied dit vars lug en die geleentheid om in die natuur te wees en buite vuil te word met modder en stof. Wat kan dan lekkerder wees?!

 FOTO: Stefan Els