?Jerome Peter Boboo Fredericks het alle verwagtinge oortref deur sy PhD in arbeidsterapie by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeweek te ontvang nadat daar aan hom gesê is hy moet daarna streef om 'n ruimtevaarder te word, want hy is vir "niks op aarde goed nie".
Die Paarliet en US-dosent het vir sy doktorale proefskrif strategie? ontwikkel om die toeganklikheid van minibustaxidienste vir rolstoelgebruikers op sy tuisdorp te verbeter. Die behoeftes van sy gemeenskap lê hom na aan die hart, want hy verstaan die krag van 'n helpende hand maar al te goed. Hy sê hy onthou die oomblik toe sy lewe as kind verander het, nog "soos gister". Hy onthou hoe hy, terwyl hy op 'n straathoek gestaan en bedel het, genooi is om by 'n vlugbaloefening aan te sluit.
Die sport het sy lewenstrajek verander, sê hy, met verwysing na die gesegde: "'n Kind in sport is 'n kind buite die hof." Hy sê deur vlugbal in sy vrye tyd te speel, het dit hom uit die moeilikheid gehou en sy selfbeeld verbeter. "Ek het my tyd meer produktief aangewend en ek het soveel lewens- en sosiale vaardighede ontwikkel." Vlugbal het "betekenis en 'n doel aan sy lewe" gegee, voeg hy by. Dit het hom gehelp om die ingesteldheid te ontwikkel dat "alle dinge moontlik is as jy net glo en hard werk aan jou droom".
Fredericks se akademiese pad het 'n twyfelagtige begin gehad toe sy ma, in die hoop om hom teen teleurstelling te beskerm, vir haar jong seun gesê het om sy verwagtinge vir sy lewe te verlaag. Nadat hy gehoor het dat hy "ver weg in die ruimte saam met die planete" moet wees omdat daar geen toekoms vir hom op aarde was nie, het die jong Fredericks aan sy graad 3-klasmaats gesê hy wil 'n ruimtevaarder word wanneer hy groot is. Dieselfde jaar het sy onderwyser hom gewaarsku dat hy die jaar sou druip indien hy nie sy sokkies optrek nie. Fredericks onthou hoe hy die dreigement letterlik opgeneem het en die volgende paar dae rondgeloop het met sy sokkies wat met rekkies oor sy knie? vasgemaak is. En hy het steeds die graad gedruip.
Dit was toe, nadat sy haar seun se teleurstelling gesien het omdat graad 3 moes herhaal, dat sy ma haar vroe?re advies heroorweeg het. "Laat niks of niemand vir jou sê jy kan nie die persoon word wat jy wil wees nie," het sy aan hom gesê. Daardie dat het Fredericks besluit om 'n professor te word, erken hy. "En waarom het ek daarvan gedroom om 'n professor te word," vra hy? "Dit was om my eie kantoor te hê, by my eie lessenaar te sit, die wêreld plat te reis, mense se lewens te be?nvloed, my ma trots te maak en laastens – om 'n hele hoender vir myself te hê, ja, 'n hele hoender vir myself." Met vlugbal as die weg na 'n beter lewe met meer geleenthede, het Fredericks later hoofseun en topstudent by die Ho?rskool Paulus Joubert in die Paarl te word. Hy is ook vir die Suid-Afrikaanse onder 19-vlugbalspan gekies.
Fredericks kan nou jongmense in sy eie gemeenskap, waar hy by rugby-, sokker- en atletiekklubs in die omgewing betrokke is, inspireer en mentor. Dit stel hom in staat om dieselfde waardes by hulle te vestig wat hy as 'n jong seun geleer het terwyl hy vlugbal gespeel het. "Om aan sport deel te neem maak jou 'n beter mens en skep 'n gevoel van veiligheid binne 'n span. Dit gee 'n gevoel van behoort." Vlugbal het vir Fredericks die deur geopen om nuwe mense te ontmoet, te reis en die lewe vanuit 'n nuwe perspektief te sien. Hy hoop om kinders uit gemeenskappe met min hulpbronne toegang te gee tot dieselfde geleenthede wat hy danksy sport geniet het. Baie van die kinders met wie hy werk, kom uit gebroke gesinne waar daar min mentors is. Sy boodskap aan hierdie kinders is: "As ek my drome kan verwesenlik, kan julle ook."
Fredericks is die afgelope 17 jaar 'n dosent aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en hy doseer op baccalaureus-, meesters- en doktorale vlak. Baie van sy werk fokus op die rol van arbeidsterapie in fisiese gestremdhede. Fredericks is ook 'n lewensafrigter, navorser, 'n geleentheidspreker en 'n “geheime komediant". Op die vraag hoe hy dit reggekry het om 'n tesis te voltooi terwyl hy by soveel goed betrokke is, sê hy: "Stukkie vir stukkie, soos 'n mens 'n olifant sou eet." Fredericks skryf sy sukses aan 'n gebalanseerde leefstyl, asook "twee van die beste PhD-studieleiers en 'n wonderlike akademiese mentor" toe, en beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om konsekwent en proaktief te werk. Wanneer hy nie besig is met navorsing of lesings nie, ontspan hy deur te kook, flieks te kyk of na inspirerende musiek te luister.
Fredericks hoop om wyer te publiseer en nasionaal en internasionaal met eweknie? op sy vakgebied saam te werk. Hy het reeds van sy navorsingsresultate by konferensies in Europa aangebied en doen ook aanstaande jaar 'n aanbieding by die Wêreldfederasie vir Arbeidsterapie- (WFOT-)kongres in Thailand.
Fredericks skryf sy prestasies aan sy ma se taai liefde en eerlike raad toe. "Een van die waardevolste lesse wat sy my geleer het, was dat daar lewe in die krag van die tong is en dat jy lewe in enige situasie kan inspreek. Met ander woorde, jy kan jou eie werklikheid skep."
"My inspirasie was 'n ma wat niks gehad het nie, maar wat my tot 'n doktor kon opvoed deur net op die Here en haar geloof te vertrou." Al lewe Fredericks se ma nie meer om haar seun se gradeplegtigheid saam te vier nie, kan hy dit met sy vrou, Mandy, en sy kinders, Joshua, Meah en Meekah, deel. "Ek is uiters dankbaar vir die genade van die Here in my lewe."
Foto: Stefan Els